myDigitalLife Blogs

A short description about your blog

Aliana - 5

Posted by: Bloubulheks

Tagged in: Wintie , Boerbok , Bloubulheks , Aliana

Bloubulheks

Wintie en die Boerbok

 

"Ek kon sien aan die manier waarop Jacobus vanoggend daar uitgery het dorp toe dat die man weer omgekrap is. Het jy alweer vir die man gaan staan en lag Aliana?"

 

"Sekerlik nie doelbewus nie Granny B, meer 'n sameloop van omstandighede. Kyk, eers wou Jacobus met miniatuur Doberman hondjies teel, maar die kleintjies was te kostelik vir hom om te verkoop. Te same met Leeu die Wolhond en Bulletjie die Skaaphond het hy tans ses troetelbrakke, Jolly Boy die Budgie en weens die allermintige bevolkingsontploffiing van sy Chinese Kapokkiehoendertjies, het Jacobus nou 'n mag der menigte troeteldiere wat hy liefdevil versorg.

 

Dan is daar Wintie, die super slim, erg bederfde, jaloerse Siamese kat met die mooiste potblou oë. Smiddae gaan stap hy saam met die trotse Jacobus die hele plot vol, beklim en bekyk alles. Tot Jacobus se ontsteltenis, leer ek die kat toe ook om op die bevel "Fix hom" die honde en hoenders wat ontydig op die agterstoep wil kom plak, vir my te verwilder.   

 

Soggens vroeg, terwyl ek die skottelgoedjies was, sien ek hom deur die kombuisvenster waar hy in die hoenderhokke hark en werkskaf. Kort-kort loer Jacobus so ter sluiks na die bure se kant toe, dan kan jy maar weet dat die pragtige langbeen, blou-oog, blondekop buurvroutjie weer haar oggend draffie al langs hul plot se grensdraad af, om en om, hardloop."

 

Aliana lag onnutsig: "Vanoggend was Jacobus en die honde nêrens te sien nie en ek was net oppad met die budgiehok na die voorstoep toe, toe ek die kat bolrug, dikstert en grommend by die voordeur gewaar. Op die voorstoep, dik gevreet aan my dure potplante, staan so opgeskote boerbok. Hy gee my en die kat net een kyk en vreet rustig voort. Ek vervies my nes die kat en ek sê vir Wintie: "Fix hom!"

 

Wintie het nie 'n oomblik getalm nie. Met 'n onaardige miaau sien jy net so wit streep deur die lug trek en die kat land bo-op die boerbok se rug, wat homself natuurlik buite weste skrik. Angsbevange probeer die boerbok onder die boosaardige gedierte op sy rug wegkom, maar sy bene gly na alle kante toe onder hom uit op die gladde stoepteels en hy slaan blêrend neer. Hy los sommer so streep bokkraletjies op die stoep om sy benoudheid te beklemtoon want die kat bedreig hom steeds met 'n gemiaau, kromrug en sulke stywe beentjies. 

 

Lam van die lag vir die gespartel van die boerbok om orent te kom, sit ek die voëlhok op die vloer neer en sê net so vir oulaas: "Fix hom!"  Die kat bespring hom weer net toe Jacobus en die buurvroutjie om die hoek van die huis kom. Wintie spring eers weer van die boerbok se rug af toe die verwilderde dier behoorlik vastrapplek op die grasperk kry en ylings koers kies in hulle plot se rigting, met die buurvroutjie, Jacobus en sy keffende honde, op 'n streep agterna.

 

Jacobus het my bleekboos aangegluur in die verby hol: "Ek het jou gesê jy leer daai kat om wreedaardig te wees, dammit... ons kon hom nou gehad het!" Ek het daardie voëlhokkie met moeite op die mikkie gehaak gekry. Sien Granny B, elke diertjie het maar sy plesiertjie."

Comments (0)Add Comment

Add your 2Cents
You must be logged in to post a comment. Please register if you do not have an account yet.

busy

Member Login