myDigitalLife Blogs

Blogs about Digital, Lifestyle, current news and opinions

Aliana - 4

Posted by: Bloubulheks

Bloubulheks

In skrille kontras met die lighartige, blymoedige Aliana wat gewoonlik met 'n vonkel in die oog, die ligter lagwekkende sy in enige alledaagse gebeurlikheid kon raaksien, val sy vanoggend met die deur in die hiuis: "Vanaf die dag dat Jacobus afgetree het, het ons mekaar grensloos begin irreteer. Iets hier binne my het stelselmatig begin verander. Daar was van dag een af net mooi niks op aarde meer wat ek reg kon doen nie.... wat ek dag in en dag uit oor dekades heen alreeds soos 'n goed geprogrammeerde vleeslike robot uitgevoer het as huisvrou was meteens verkeerd, ontydig of kon hy kwansuis beter doen.  Net mooi alles moes sis of so, vroeër of later, gouer as nou of liewer nooit as te nimmer gedoen word."

 

Ek het intens die Aliana van wie sy my probeer vertel het, in ons teenwoordigheid begin aanvoel en plaas.  "Ek ken myself nie meer nie. Alles wat ek eens as my Alfa en Omega van beginsels, waardes en geloof geglo en aan vas geklou het, het stelselmatig in die niet vervaag. Die geskrop, skuur, was, stryk, kook en bak, net mooi alles nerf my. Iewers langs die pad het die vae skeidslyn net al dowwer geraak tussen plig en plesier en reg of verkeerd ."

 

Bekommerd en sonder huiwering val ek haar in die rede: "Klink my jy is in depressie...."

 

Net so effens onkant, verbaas en met 'n skugter uitdrukking op haar mooi gelaat antwoord sy net te vinnig om oortuigend te klink: "Nee, ek weet presies wat, waar en waarom ek so voel vandag. " 

 

Ek besef ek moes seker eers die onderwerp uit 'n ander hoek benader het. Mense wil nie met sielkundiges geasosieer word nie. Ek wend 'n dapper poging aan om haar nie dalk meer die harnas in te jaag nie. "Dit is baie algemeen deesdae Aliana, almal ly glo aan die een of ander soort spanning wat hul siele uitmergel en hul in depressie dompel."

 

Met 'n sagte glimlag om haar mond laat sy ter sluiks oor haar skouer glip terwyl sy uitstap: "Granny B, dit is jy wat nie verstaan nie, ek is verveeld weens die nimmereindigende kringloop van roetine, dit maak my bossies. Kan jy my asseblief  help werk soek op die internet."

 

"Huh....nee magtig mens, dit is 'n onbegonne taak. Weet jy hoeveel slaggate daar op jou wag? Ek het oor die jare heen talle kere so byna lelike stelle afgetrap, met allerlei foefies en maaifoedies, wat daar vir mens sit en wag. Soos aasvoëls, net om jou onkunde uit te buit, en die bietjie geld wat jy wel nog het, te roof met liegstories. Gaan blog liewer op Mydigitallife, jy het 'n beter kans daar om 'n geldjie te verdien." 

 

 "Maar my, wanneer laas het ek 'n opstel geskryf..... nee dankie Granny B, ek soek iets anders."

Comments (0)Add Comment

Add your 2Cents
You must be logged in to post a comment. Please register if you do not have an account yet.

busy

Member Login