Oor dekades heen, hoor ek klokslag die vraag: “Het jy al in jou wyk gaan registreer om te stem?” Gladnie lus om ‘n relaas, langer as ‘n Harry Potter reeks te verskaf nie, bly my antwoord: “Nee, ek wil nie stem nie.” Onmiddelik word die belangrikheid van my een enkele kruisie van verandering vir Jan Regruk teen die 50 miljoen andersdenkende stemgeregtiges van Koos Leëbeloftes uitgewys. Die Aarde kan dalk uit sy wentebaan geruk word as ek en al die draadsitters wat soos ek dink, redeneer en net wegbly van die stembusse af, nie gaan stem nie.
Blykbaar kan my stem sorg dat die vrot besoedelde drinkwater oornag sal verander na suiwerskoon fonteinwater uit krane. Dat almal sonder toiletgeriewe, elke oggend hul slopemmertjies na die naaste rioolaanleg sal gaan neem nie. Dat skoliere nie in verlate velde agter bossies sal moet gaan soek of te hoef snorkelduik vir skoolhandboeke nie. Niemand sal ooit weer honger hoef te gaan slaap nie want regerings sal al die agtergeblewendes na hul luuksieuse partytjies toe nooi. Daar sal geen korupsie of onderskeid tussen ryk en arm meer wees nie want alles sal genationaliseer word en al die geldjies van die land sal gelykmatig onder die 50 miljoen inwoners van die land verdeel word. Dat ek besmoontlik al die wetsgehoorsame burgers in ons vrye demokratiese verkiesings met my kruisie sal kan vrywaar van moord, verkragting, roof en geweld. Sodoende sal ek die oorsaak wees dat al ons wêreldrekords gekantel het.
Daar is ook ontelbare ander redes wat aan my wegblystem gekoppel kan word maar politiek is nie die dryfveer wat my van die stembusse af weghou nie. Om selfsugtige redes bly ek bloot daar weg uit vrees dat my “X” dalk kan veroorsaak, dat al die Nasies van oor die wêreld sal Verenig en ook nog ons landjie binnestroom. Behoede my, dat my wegblystem, nie dalk die rede is waarom daar geen keer is aan die daaglikse hoër belastings, lisensiegelde, tolgelde en stygende verbruikerspryse, verbruikerspryse, versekerings ens. nie, want ons beperkte hulpbronne en algemene oorlewing is reeds bo aan die lys vir bedreigde spesies.
©BapsdupM2012